Maandag 09 Februarie 2015

‘n Toekoms vir die Afrikaner in Afrika?
                                                                          

Die Afrikaner is besig om totale vernietiging tegemoet te gaan onder die bewind van ‘n korrupte, selfsugtige, onbevoegde en ongeërgde swart meerderheidsregering. Groot ophef word gemaak van die sogenaamde feit dat die regerings wat tans in Namibië en Suid-Afrika oor die Afrikaner regeer, demokraties verkose regerings is. Dit is egter nie die waarheid nie. Die term “demokrasie” of “demokraties” beteken regering deur die volk. Binne die huidige dispensasies in beide Namibië en Suid-Afrika word daar geensins erkenning aan volk en/of volkere gegee wanneer dit kom by verkiesings betreffende die verskillende vlakke van regering nie. Beide Namibië en Suid-Afrika se bevolkings is saamgestel uit ‘n wye verskeidenheid volkere, elk met sy eie waarde-sisteem, geskiedenis, afkoms, kultuur, taal, gewoontes, gebruike, voorkeure, belange, aspirasies, vooruitsigte en ideale. Hierdie volks-belange gaan egter reguit in die rioolput in omdat volkere moet swig voor ‘n massa stemvee wat letterlik soos skape deur propaganda en politieke leuens in ‘n bepaalde rigting gejaag word; ‘n rigting wat geensins die belange van volke en selfs indiwidue dien nie, maar slegs daarop ingestel is om die persoonlike voordele en belange van bepaalde indiwidue en die duiwel te bevoordeel. In Suid-Afrika en in Namibië kan ons inderdaad sê dat indien jy deel is van ‘n bepaalde volk en/of belangegroep jou stem hoegenaamd niks in ‘n verkiesing beteken teen die magtige golf van die stem van die stemvee nie. Ons het dus inderdaad in Suid-Afrika en Namibië geen ware demokrasie (regering deur die volk) nie; ons het hier slegs wat jy op sy beste kan noem ‘n demoonkrasie. Dit is regering deur die massa volgens die wil van diegene wat agter die skerms die media en propaganda-middele beheer. En as jy gaan kyk na wat in die media aangaan, dan kan dit net die duiwel wees wat agter die skerms die media beheer. Jy moet letterlik blind wees as jy dit nie dadelik raaksien nie. Kyk maar net na baie van die gemors-films wat DSTV vertoon en na die gemors wat in baie tydskrifte verskyn (Huisgenoot ingesluit), dan sien jy wie is in beheer van die media.

Daarom het dit nou dringend tyd geword dat Afrikaners ernstig, positief en konstruktief sal besin betreffende hulle eie toekoms. Wanneer dit gedoen word, moet in gedagte gehou word dat daar al vele pogings deur verskeie instansies in die verlede was wat hulle bemoei het met hierdie saak. Oënskynlik het geen van hierdie pogings uit die verlede egter tot enige sinvolle realiteit gekom nie. Die enigste wat nog ‘n mate van lewe vertoon, is die Orania-beweging. Met hierdie opmerking wil ek geensins die Orania-beweging verkleineer en geringskat in hulle pogings nie. Inteendeel, miskien moet ‘n groot deel van die blaam gesoek word by Afrikaners wat nie betrokke is by ‘n organisasie soos die Orania-beweging nie. Daar mag ook ander redes wees waarom die Orania-beweging nog nie hierdie geweldige golf is wat ons hele volk met hom saamneem nie; een waarvan die feit dat alle Afrikaners doodgewoon nie kanssien om op ‘n plek soos Orania te gaan vestig nie. Dit mag wees dat die omgewing waar Orania geleë is vir baie Afrikaners nie aanvaarbaar is nie. Dit mag ook wees dat dit ‘n realitiet is dat Orania soos hy tans daar uitsien, net doodgewoon nie vir Afrikaners die ruimte bied om daar ‘n ekonomiese bestaan te gaan maak nie.

Die feit is egter dat ek met hierdie skrywe nie noodwendig die Orania-beweging wil propageer nie. Ek wil ook nie diegene wat nie by die Orania-beweging betrokke is, afkraak en blameer nie. Ek wil eerder my volksgenote aanmoedig om weer ‘n poging aan te wend om positief na die oorlewing van die Afrikaner te kyk. Hoekom wil ek dit doen? Gaan dit oor doodgewone nasionalistiese en patriotiese oortuigings? Wel, beslis nie vir my nie. Ook in die verlede toe ek lustig saamgesing het as ons Die Stem sing, en sê “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika!” het ek dit nie gedoen bloot uit nasionalistiese en patriotiese oorwegings nie. Dit het nog altyd oor ‘n dieperliggende saak gegaan; dit waarvoor die ou Suid-Afrika gestaan het, nl. die eerbiediging van die Naam van die HERE en die handhawing van die God-gegewe orde in ons land. Dit is wat ek bedoel het wanneer ek gesing het “Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika!”, want dit is wat die ou Suid-Afrika vir my verpersoonlik het. Vir daardie orde en vir die lewende God van hemel en aarde SAL ek lewe en SAL ek sterwe! Ek sê nie dit is wat almal bedoel het wat saam gesing het nie. Daar was verseker baie wat hierdie woorde gesing het met heel ander bedoelings in die hart. Vir my het dit egter gegaan om God te eer juis ook in die politiek en staatkundige hantering van ons land (Namibië en Suid-Afrika) en al sy mense.

Hiermee wil ek ook nie sê dat daar nie ook verkeerde dinge gebeur het in die sogenaamde ou Suid-Afrika nie. Inteendeel daar was baie indiwidue wat die apartheidsisteem misbruik het vir eie voordeel en gewin, en sodoende mense verontreg en baie pyn veroorsaak het. Ek wil egter wel dit katagories hier stel dat niemand my sal oortuig dat dit dr. Verwoerd se bedoeling was om mense te verontreg en van hulle Godgegewe menswaardigheid te ontneem nie. Die apartheid van ‘n dr. Verwoerd het juis ten doel gehad om al die mense van Suid-Afrika die geleentheid te gee om tot hulle volle wasdom te laat kom. Daar word egter baie gelieg oor dr. Verwoerd en sy beleid. Vandag is hy lankal dood, en nie hier om homself te verdedig nie. Die onderduimshede en oneerlikhede van Nasionale Party politici wat na dr. Verwoerd die leisels in die hande gehad het, word verkeerdelik aan dr. Verwoerd toegedig. Dr. Verwoerd was ‘n opregte christen-gelowige mens wie se waardes en beginsels van sodanige hoë stand was, dat die duistere gemoedere van sommige mense in die wêreld en selfs binne sy eie party dit nie kon hanteer nie; in so ‘n mate dat mense saamgesweer het om hom te laat vermoor. Dit het hulle dan ook gedoen, en Suid-Afrika en Namibië onherroeplik op die pad van verwêreldliking en die dien van afgode geplaas om sodoende die guns van die duiwelse heersers van hierdie wêreld te wen. In hierdie proses het die ware belang en voordeel van die mense van Suid-Afrika en Namibië heeltemal op die agtergrond verdwyn. Dit word slegs as ‘n rookskerm na vore gebring om die immorele agendas van die duiwels-aanhangers in die politieke arenas van Suid-Afrika en Namibië te verberg. Die werklikhede in hierdie verband is duidelik sigbaar wanneer die lewensomstandighede van alle mense wat tans in Suid-Afrika woon vergelyk word met die lewensomstandighede van alle mense in Suid-Afrika in die 1950’s en 1960’s. Swart mense getuig vandag self dat in die 1950’s 1960’s het hulle beter behuising, skole, gesondheidsdienste, veiligheid en sekuriteit in die algemeen gehad as wat vandag in die algemeen die geval is in Namibië en Suid-Afrika. Al die gehoe-ha oor menseregte en die bose euwel van apartheid ten spyt. Korrupsie het in die tyd van ‘n Malan, Strijdom en Verwoerd basies glad nie bestaan nie. Eerbaarheid en integriteit was in daardie era ‘n ononderhandelbare vereiste vir enige-een wat hom  in die landsregering wou laat betrek. Wanneer enige immoraliteit in hierdie verband sy kop uitgesteek het, is daar beslissend en effektief daarmee gehandel.


Lang storie kort, wat wil ons hê? Ons wil ‘n Verwoerdiaanse Afrikaner-republiek hê. Ons wil vir geen ander volk voorskryf wat hulle moet doen nie, maar ons kan ook nie langer bekostig dat daar vir ons voorgeskryf word nie. Ons wil ware demokrasie hê waar ons as volk oor onsself kan regeer. Ons wil nie langer deur ander volkere en/of deur die stemvee-massa geregeer word nie. Ons wil ‘n land en ‘n samelewing hê waar die Drie-enige God ge-eer sal word, waar die Bybel ‘n ereplek sal hê, waar Afrikanerkinders binne ‘n omgewing van Bybelse- en Afrikanervolks-waardes opgevoed kan word, waar liefde en wedersydse respek, en veral respek vir mense-lewens ononderhandelbare beginsels sal wees. Ons is bereid om self te werk vir so ‘n land en samelewing. Erken net ons reg daartoe, en gee ons ‘n regmatige deel (grondgebied) van Namibië/Suid-Afrika waar ons hierdie samelewing kan vestig en kan uitbou. As julle dan vir niks verder kanssien nie, gee dan maar vir ons Orania met sy omringende grondgebied sodat ons daar ‘n eie regering kan hê waarvoor ons as Afrikaners kan stem; ‘n regering en verkiesings waar my demokratiese stem regtig wel iets sal beteken. Gee vir Orania dan volle staatkundige onafhanklikheid. Miskien kan ons nie almal daar gaan woon en werk nie, maar ek kan steeds as Afrikaner daar as kieser geregistreer wees en my stem op ‘n gereelde basis uitbring vir ‘n Afrikanerregering wat sal ywer ook vir my belange, al bly ek nie daar nie (net soos wat baie Duitsers wat hier in Namibië woon, deelneem aan die verkiesings in Duitsland, en net soos wat baie Suid-Afrikaners wat in Engeland woon, deelneem aan die verkiesings in SA). Dit is darem iets!! Nou, op die oomblik het ons NIKS!!!! Daar is geen Afrikaner iewers in Suider-Afrika wat werklik kan sê dat sy/haar stem enige-iets beteken nie!!